Jare gelede, toe Ma en Pa afgtree het, het Ma alles wat nie in die aftreehuis op Naboom sou pas nie, uitgesmyt. In ‘n seldsame oomblik van besieling (op 27) het ek my oor Ma se Remington tikmasjien ontferm en dié gered van ‘n gewisse tog puinhoop toe. Die tikmasjien is saam my en Hanna in die ou Sentra Richardsbaai toe en het daar iewers gestaan en stof vergaar, tot my eerste midlife crisis my Nederland toe laat vlug het en arme Hanna Johannesburg toe. Van daar het die ou Remington al die jare by haar gestaan.
In my tweede midlife crisis (2007), voel ek meer en meer ‘n behoefte aan skryf en iewers uit die donker dieptes van my binneste, kom ‘n verlange na ma se Remington by my op. Genadiglik is Hanna steeds lief vir my en willig sy (met die hulp van subtiele sielkundige manipulasie) in, dat Ma se Remington saam my huis toe kom.
Inderhaas jaag ek Jozi toe om famile te besoek en die Remington te gaan haal. Hanna help my om die Remington kar toe te dra. Die ding is swaar en so groot dat ek die Mini se agtersitplek moet platslaan.
Ek ry terug Durban toe met ‘n lied in my hart en ‘n smile op my gesig, elke keer as ek dink hoe my vriende gaan reageer as ek hulle my nuwe laptop wys!
Terug in Durban, word die Remington op die eetkamer tafel staan gemaak. Dit lyk so of hy daar staan om elke dag gebruik te word. Dinsdagaand sit ek lank en kyk vir die tikmasjien, verlore in herinneringe van vervloëe dae. Ek sien Ma in Vereeniging voor die tikmasjien. Statig en vier slaan sy die sleutels met volkome elegansie. Haar keurig versorgde vingers, in ‘n ritmiese dans oor die letters van die alfabet. Elke nou en dan gly sy die voer roller van links na regs. Sy doen dit so perfek, dat dit deel vorm van die vingerdans. Elke brief is keurig en netjies en word afgerond met Ma se handtekening, wat nog mooier is as die getikte letters.
As 5 jarige kind kon nie baie dinge my wegskeur van my karretjies nie. Maar ek kon ure lank op die mat lê en kyk hoe Ma die Remington bewerk, weggevoer deur sien en luister na die mooi getokkel. Soms as Ma nie gekyk het nie, het ek skelm self op die Remington gaan speel. In my kop was ek iemand wat baie belangrike dinge geskryf het, nes Ma. Maar maak nie saak hoe ek probeer het nie, daar was geen ritme in my vingers en die gevolglike geluide wat uit my molestasie van die Remington gevolg het, was nader aan die gekap van ‘n Houtkapper op Ritilin.
So onthou ek ook Ma ‘n aantal jare later in Newcastle, waar sy met dieselfde presiesheid en elegansie die amptelike korrespondensie van Coolcor Radiators op die Remington gevoer het.
Ek is so dankbaar om die ou tikmasjien nou by my te hê. Elke oggend as ek afstrompel kombuis toe, sien ek die Remington en dink ek aan Ma. My nooi is in ‘n nartjie, my ouma is in kaneel, gaan die woorde van die ou bekende lied. My Ma is (onder andere) in ‘n Remington, kom ek nou agter.
(2007)