Saturday, 7 May 2016

NOËL


Voor ek Graham ontmoet het, was die Karoo vir my altyd ‘n plek waardeur mens noodgedwonge moes jaag om so spoedig moontlik, by die Kaap uit te kom. By Graham het ek geleer om die Karoo te geniet en die mooi daarvan raak te sien.

So vertek ons die oggend na 2009 Kersete, op ‘n onvergeetlike toer deur die Karoo. In die kattebak ‘n koel boks keurig gepak met oorskiet lekkertes van Graham se kookvernuf. 

Die Golden Chariot (Graham se goue ou Audi - letterlik) se wiele sing op die N1 suid, terwyl ons op maat van Baccara (Yes Sir I can boogie) en Rita en Truda aan geroosterde Franse eendbroodjies smul, ‘n aansienlike opgradering van die gekookte eiers en frikadelle van my hetero dae. 

Ons reis via Richmond, Victoria Wes en Prins Albert waar ons storie karakters ontmoet soos die wiskunde onderwyser,  die Professor, 2 oud SAL vlugkelners en die vreesaanjaende Monkey en Muffy (paslik geklee in two-tone).

Op Nuwejaarsdag 2010 ry ons Calitzdorp binne. Met ons aankoms by die Sunflower  Lodge (of so iets, kan nie mooi die naam onthou) vertel ons gasvrou entoesiasties van Noël se orreluitvoering in die plaaslike NG Kerk. Dit gebeur elke aand stiptelik om 18h00 en volgens haar is dit iets wat ons nie durf misloop nie.

Orrel musiek is nou nie juis ons ding nie  en inteendeel, iets waarvoor ek ietwat lugtig is, sedert Mevrou Krog se weeklikse gelol met die kerkorrel in my hoërskool jare. 

Maar altyd op die uitkyk vir nuwe avonture en belewenisse, kry ons nuuskierigheid die oorhand en besluit ons tog om  kort voor 18:00 by die kerk aan te meld en vir onsself te sien waaroor die bohaai gaan.

Dis onheilspellend stil by die oopmaak van die hout kerkdeure. Ons loer versigtig binne en sien ‘n paar mense bo in die gallery. Regs van die bopunt van die trappe staan ‘n yslike orrel met ‘n balon figuur op die orrel stoeltjie,  sy aandag gefokus op die musiekboek voor hom. Sy uitstraling ietwat gloeiend, soos iemand wat sy beste gegee het om die ou jaar vaarwel te roep. 

Toe hy ons gewaar sping hy ineens op en storm reguit op Graham af met ‘n groot glimlag en ‘n blik van verwondering. Graham kry ‘n gulhartige omhelsing en ek, ‘n saaklike handdruk. 

Hy beduie ons om links van die orrel by ‘n paar ander afwagtendes plaas te neem. Stiptelik om 18:00 word almal formeel verwelkom, gevolg deur ‘n kort verduideliking van welke musiek ons te wagte kan wees. 

Wanneer Noël weer voor die orrel sy plek inneem, trek hy met mag en mening op die klawers los, om binne enkele sekondes die volle aandag van elke bevoorregte luisteraar te verower. Die orrelpype basuin met lof die note uit,  die geheel van die leë kerk te vul. Met tye sing hy, sy stem perfek in harmonie met die musiek. 


Dis nie net die brute krag van sy musiek wat bewondering afdwing nie, maar ook sy totale oorgawe daaraan. Met hart en siel speel hy ‘n orrel soos ek dit nog nooit beleef het nie. In die gehoor is iedereen tjoepstil,  gemesmeraais. 

Noël self is totaal meegevoer, op daardie oomblik ‘n wêreldberoemde kunstenaar wat op ‘n gesogte verhoog in Broadway optree, voor ‘n volgepakte gehoor van uitgelese internasionale gaste.

Dit laat my dink aan ‘n aanhaling wat Hanna graag gebruik:

“You create your own reality.”

Die feit dat Noël besig is om op te tree voor ‘n handjievol in ‘n klein Karoo dorpie waarvan baie mense nog nooit gehoor het nie, is vir hom totaal irrelevant. Sy realiteit en optrede is soveel groter as waar hy hom bevind. Hy gee sy beste en ek dink nie dit sou enigsins anders gewees het as hy inderdaad op Broadway opgetree het. 

Ek loop van daardie aand af weg, met hart en siel  verkwik in baie meer opsigte as wat ek my ooit sou kon voorstel.

So dikwels verlang ek om te skryf of iets moois te maak of teken, maar laat al te maklik toe dat my drome lamgelê word deur persoonlike vrese, onsekerhede of dit wat ander daarvan  mag dink, of nie dink nie.

Ek sien onlangs hierdie aanhaling van Andy Warhol:

“Don’t think about making art, just get it done, let everyone else decide if its good or bad, whether they love it or hate it. While they are deciding make even more art."

Van hier af aan wil ek die stories en beelde in my gedagtes gedaante gee, soos Noël daai orrel gespeel het, met hardekoolhout se vuur. 

En of dit ooit verder gaan as my persoonlike Calitzdorp, is in geheel van geen belang. Al wat tel is dat ek die orrel van my siel speel, met die binnewande van my hart.