My lewe lank sal ek dit altyd onthou. Die gesig van daardie wintersoggend in Newcastle, 1984. Dit het kompleet gelyk of die towerfee oornag alles van die roostuin tot die hele berg agter die huis in 'n winter wonderwêreld omgetower het.
Ek kan skaars my opgewondenheid vir lank genoeg beteuel om my skoene aangetrek te kry, voor ek na buite hardloop. My tekkies girts girts in die poeier sneeu terwyl die laaste sneeu vlokkies stadig en saggies sweef soos 'n feetjie dans.
Met elke sintuig probeer ek om die mooi in te neem. Kyk, vat, ruik en selfs proe. 'n Ongewone stilte heers. Dis of selfs die voëltjies stom is van verbystering.
Nog nooit in my 14 jaar het ek iets so mooi beleef nie. Die goudgeel suurlemoene het almal Klaas Vakie hoedjes op. Die siersteen muur rondom die swembad wit geversiersuiker soos troukoek. Elke klip, elke boom en elke plant in wit gewaad. Ek verkyk my aan die alwyne, die blomme nog mooier as gewoonlik in teenstelling met die wit sneeukombers wat alles daaromheen bedek.
Dit is die eerste keer wat ek regte egte sneeu sien, vars terwyl dit nog val. Die naaste wat ek nog ooit daaraan gekom het was dagoud sneeu in die berge, 'n ent dorpuit. Vuilgetrap deur die massas ten einde mekaar met sneeuballe te betakel en daarna 'n derderangse poging tot 'n sneeuman op die Cortina se bonnet of dak te bou sodat die agtergeblewenes by die huis ook iets van die sneeu kan sien.
Hierdie sneeu is net myne. Nog niemand het dit met hulle smerige pote betakel nie en ek gaan die hele dag hê om hierdie groot vreugde te geniet en beleef. Geen mens kan immers so 'n mooi dag op die skoolbanke verydel nie.
Opgewonde hardloop ek eetkamer toe om net gou vir Ma te vertel dat ek nie vandag skool toe gaan nie.
Maar Ma laat nie vir haar maklik vertel wat ek gaan doen nie. Haar oë trek skrefies en nog voor ek my sin kan voltooi beduie sy nes oom PW kwaai met haar wysvinger "dis 'n skooldag en jy sal skool toe gaan! Gaan onmiddellik kamer toe en trek vir jou aan. Pa ry oor 10 minute!"
Boos storm ek die trappe op kamer toe. "Jou moer Ma" dink ek by myself. "Vandag sal ek jou wys. Ek sal NIE skool toe gaan NIE. Sleep maar hierdie perd water toe en kyk of jy hom kan maak drink!"
Klaar geontbyt klim ek dikbek saam met Pa in die Toyota bakkie. So amper amper maak ons by die vertrekslag al 'n hengse ongeluk toe die bakkie by die steil oprit afgly en nouliks die pilaar by die ingang mis.
Maar Pa durf nie Ma se bevele verontagsaam nie en versigtig ry ons deur die sneeu tot by die skool, waar Pa my voor die hek aflaai.
Op die skoolgronde verg dit nie veel oortuiging voordat my 3 naaste trawante instem om saam met my skool te verlaat en die beste van die sneeu te maak. Die ontsnappingstog begin byna rampspoedig toe ek met die springslag oor die skoolheining 'n yslike winkelhaak in my broek skeur.
Maar gelukkig bereik ons Wikus se huis sonder verdere insident, waar ons die ogend salig deurbring in kinderlike vervoering. Ons bou 'n sneeuman en gooi mekaar met sneeuballe. Tyd vlieg verby en kort voor lank is dit die einde van die amptelike skooldag en kan ek dit waag om huiswaarts te keer.
Tuisgekom trek ek gou my skoolklere uit en versteek my skoolbroek so diep bo in my kas dat selfs Ma se valk oë dit nie maklik sal raaksien nie.
Die aand verloop sonder enige insident. Ma is kennelik selfvoldaan dat sy klaarblyklik weer daarin kon slaag om my op die regte pad te hou en ek giggel innerlik in die wete dat ek vandag my sin gekry het.
My nagloed word egter die volgende oggend wreed versteur toe ons sommer met die intrapslag deur die skoolhoof ingeroep word. Klaarblyklik het 'n merkbare hoeveelheid kinders dieselfde idee gehad. Die skool was teen kortpouse so leeg dat hulle die deure moes sluit
Die hoof is woedend en maak dit baie duidelik dat elke kind wat sonder permissie van die skool afwesig was gedisiplineer sal word by gebrek aan 'n ouerlike brief waarin 'n aanvaarbare rede vir afwesigheid gebied word.
My hart word yskoud by die aanhoor hiervan. Daar gaan hel wees as ek tuiskom!
Ek knaag daardie aand my naels tot amper binne in die lewe in van rou angs voordat ek die moed kry om die spreekwoordelike bul (of is dit koei?) by die horings te pak.
In plaas van die gebruiklike uittrap tot ek in trane uitbars is ma tot my verbasing uitermate kalm.
Die gesprek eindig met 'n kil "dis reg Pieter, jou brief sal more oggend gereed wees" voor ek verskoon word kamer toe.
Ek moes toe al kon geraai het die Titanic is reguit oppad ysberg toe....
Die volgende ogend stop sy sonder seremonie 'n toegeplakte koevert in my hand met die opdrag om dit vir die skoolhoof te gee. Met die koevert soos 'n warm patat in my hande hou ek my met moeite in tot Pa my aflaai, voordat ek dit oopskeur om te lees wat Ma geskryf het:
"Geagte Mnr van Coller,
Sneeu is baie mooi, maar kinders moet van jongs af leer dat verantwoordelikhede voor plesier gestel moet word.
Ons het Pieter uitdruklik opdrag gegee om skool toe te gaan en sy Pa het hom selfs voor die skoolhek afgelaai. Het het egter besluit om ons te verontagsaam.
Pieter het stokkies gedraai. Dissiplineer hom asseblief na goeddunke.
Die uwe,
(Mev) EH Schoeman"
Ek is heeltemal uit die veld geslaan. Hoe durf sy?
My verbystering word net nog meer intens toe my mededaders hulle briewe vir my wys. Die een moes glo dokter toe, die ander een tandarts toe en nog een het glo maaggriep onder lede gehad.
Hulle Ma's het duidelik nie 'n hart van klip nie.
Die hoof roep al die afwesiges saal toe waar hy al die briewe kollekteer en almal behoorlik roskam.
Gelukkig vir my is ek toe darem nooit ingeroep na sy kantoor om gevolg te gee aan Ma se versoek nie.
Die les wat ek hard en duidelik hieruit geleer het, was dat ek self my probleme moet oplos en dat ek nie op Ma kon staatmaak om my uit die moeilikheid te help nie.
Ek het vir die res van my skooljare dus gesorg dat een van my vriendinne my sieknotas skryf in tye van afwesigheid sonder Ma se medewete. Ma het wel later een van hierdie notas in my wasgoed ontdek, maar dit is 'n storie vir 'n ander keer.
Vir jare vertel ek al hierdie storie en my gehoor is keer op keer merkbaar geskok dat Ma so hard op my kon wees. Ek besef egter nou dat dit juis hierdie lesse was wat Ma my op so 'n harde manier geleer het wat die beginsels van selfstandigheid en om self verantwoordelikheid te dra vir die gevolge van my optrede by my ingeskerp het.
Waar ek al die jare Ma verkwalik het vir die gewraakte brief begin ek nou al meer dink dat ek haar eintlik dankbaar moet wees.