Ek onthou weinig van my geboorte. Eintlik niks om eerlik te wees. Maar as ek my moet voorstel het dit min of meer as volg verloop:
Dit was 'n smartlike nag op die hoëveld. Donder en bliksem vlek die hemel oop en versteur die rus en vrede van die bewoners van Bethal.
Depressielyers, geestesongesteldes, mielies en graansuiers bewe van die naderende onheil. 'n Belustige kat se onheilspellende gemiaau is in die verte hoorbaar.
Elsabé gil benoud toe haar water breek en die louwarm vrugwater soos 'n klein tsunami by haar 33 jarige dye afstroom.
Ek moet ophou suip sê Eddie vir homself. Op 38 is hy waaragtig nie lus vir nog 'n vierde bondel skreeuende frustrasie nie. Dis nou die gevolg van 'n bottel brandewyn en 'n roekelose nag van passie op die harde spons matras in Loskop Dam se karavaanpark tydens Paasnaweek.
Elsabé se klein hospitaal tassie staan al vir 'n week klaar in die ingangsportaal, gereed vir die geboorte van haar jongste telg. Oppad na die voorhuis strompel sy verby die telefoon. Kromgetrek van kraampyne, lui sy met bewende vingers Ouma Bella se nommer.
Op die plaas Weltevreden buite Middelburg het Ouma Bella al vroegdag die onheil voel broei. Sy het kort na oggend koffie 'n baksel beskuit en twee melkterte met gedraaide repies op in die oond gedruk. Hande besighou om die senuwees te bedaar.
Die plaaslyn lui twee langes en 'n korte. So vinnig as wat haar stywe knie dit toelaat storm sy uit die kombuis eetkamer toe om die noodroep te antwoord.
Elsabé is skaars hoorbaar tussen die kontraksies en krakende plaaslyn deur. "Dis tyd" prewel sy deur saamgeperste lippe. Sy plak die gehoorbuis neer terwyl Ouma haar oë opslaan na boven en wonder waar gaat haar hulp vandaan kom. "My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het" troos sy haarself.
Buite ref Eddie angstig die groen Valiant VIP, terwyl hy moerig wonder of hy haar betyds by die hospitaal gaan kry. Aan 'n bevalling in sy nuwe kar het hy geen sin nie.
Die Valliant verdwyn met gillende bande om die hoek.
Klein Eddie is nouliks bewus van al die drama, waar hy agter sy toe kamerdeur lê en fantaseer oor die buurdogter se lekker tiete. Baie ervare vir sy 10 lewensjare. Van sigarette, skelm drink en die buurdogter weet hy baie meer as wat Elsabé haar ooit sal kan indink.
Nadat Isabel die groot verleentheid verwerk het van haar Ma wat 12 jaar na haar geboorte waarragtig al weer swanger is, voel sy opgewonde oor die onafwendbare geboorte van die ou babatjie. Sy hoop dat hierdie kind 'n ligpunt sal word in die donker familie tonnel. Miskien sal hierdie een haar verstaan.
Op 5 het Elmundé al reeds die babakas in die babakamer geinvetariseer. Tot haar skok en ontsteltenis vermoed sy dat die ongeborene al reeds met meer babaklere, poeier, teddies en Fisan Paste bederf word as wat sy ooit gehad het. Sy besef 'n lewe van bittere onregverdigheid lê vir haar voor as die kind eers huistoe kom.
Met 'n ruk en 'n sidder kom die Valliant tot stilstand voor Bethal Hospitaal se ongevalle. 'n Verblindende bliksemstraal gevolg deur 'n oorverdowende donderslag. Die reuk van swael, angs en medisyne hang swaar in die lug.
Twee senuweeagtige portiere hardloop vervaard met 'n rolstoel die Valliant en sy kosbare inhoud tegemoet. Dis half nege die aand op 20 Januarie 1970.
"Vir wat sukkel jy so" brom Eddie terwyl Elsabe moeisaam haar sit probeer kry in die rolstoel.
Dokter Albertyn staan verveeld en wag by die teater ingang. Hoeveel kinders gaat nou nog gebore word voordat hierdie 2 begin geboortebeperking toepas? Miskien is dit tyd vir 'n minder taktvolle weergawe van sy "Voordele van Sterilisasie" gesprek.
Ondersteun deur Suster Applegryn spring hy onmiddellik aan die slag. Elsabe hyg en haal hortend asem. Suster Appelgryn bring 'n skottel kookwater. Geboorte apparate lê netjies uitgepak in 'n ry naas die teater trollie.
Eddie staan buite die teater. Hy stress en vloek. Soms hoorbaar en soms nie. Verbygangers kyk geskok om wanneer 'n hoorbare "fok" met gereelde tussenpose uitglip.
Dit word 'n pynlike geboorte wat oor etlike ure uitgerek word. Klein Piet wil nie gebore word nie. Dis of hy weet van die opdraande stryd wat vir hom wag. Hy verkies die baarmoeder se beskutting. Sy piepklein gebalde vuisies trek krampagtig saam en klou beangs aan die naelstring vas - sy laaste anker voor hy die koue wrede wêreld moet in.
Dis 'n futiele poging. Sy eerste gewaarwording post geboorte is die helder teaterligte wat sy ogies verblind. Van pure skok begin hy hartstogtelik te huil. En dit sonder die gebruiklike klap. Dis 02h23 op 21 Januarie 1970.
Die susters neem hom weg. Elsabé huil. Eddie slaak 'n sug van verligting. Buite het die storm eensklaps opgehou. Al wat hoorbaar is, is klein Piet se jammerlike geween wat tot dagbreek sny deur murg en been en broeikas.